Die Christelike geloof behoort die wêreld in opskudding te bring. In Hand. 17: 6-7 kry ons ʼn voorbeeld hiervan:
“Maar toe hulle hul nie kry nie, (dis nou Paulus en Silas) het hulle Jason en 'n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom, en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar 'n ander koning is, naamlik Jesus.”
Die wêreld behoort die christelike geloof te vrees - ons behoort hulle grootste vyand te wees want ons sê immers dat daar ʼn ander Koning is, naamlik Jesus.
In die verlede het die christendom die wêreld in opskudding gebring. Mense het die christendom ernstig opgeneem. So ernstig dat hulle christene dood gemaak het – en die rede daarvoor was dat die christendom hulle heidense manier van dink en doen bedreig het!
Vandag lyk die prentjie egter heeltemal anders. Die kerk het sy byt verloor. Die kerk se mening dra geen gewig meer nie. In plaas daarvan dat die wêreld die christendom vrees – lag hulle vir ons...
Niemand steur hulle daaraan as christene sê dat homoseksualisme sonde is nie. Niemand steur hulle daaraan as christene se dat aborsie sonde is nie. Die wêreld steur hom net doodeenvoudig nie meer aan die kerk nie. In teen deel ons is belaglik in hulle oë.
Daar is natuurlik meer as een rede hiervoor, maar ek glo dat ʼn skeefgetrekte soort konserwatisme ʼn groot rol hierin speel. Konserwatisme is een van die redes waarom die heidene nie meer voel dat die kerk vir hulle ʼn gevaar inhou nie.
Nou kan ek sommer sien hoe flits die rooi ligte vir julle. Hoe kan hy sê dat konserwatisme die probleem is? Die probleem is juis dat die kerk te liberaal is! Dit is as gevolg van liberale teologie dat mense nie meer die Bybel glo nie.
Dit is waar.
Maar in Mat. 7:5 lees ons:
“Haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”
Dit is belangrik dat ons, ons eie sondes en foute sal raaksien, anders sal dit onmoontlik wees om die wêreld se foute aan te spreek. En konserwatisme is bepaald nie sonder foute nie. Daarom wil ek graag oor die drie groot foute wat konserwatiewes maak gesels.
Ø Die eerste is dat ons altyd rem trap – ons is teen alles maar vir niks nie.
Ø Die tweede is dat ons deur die verkeerde bril na die wêreld kyk.
Ø Die derde is dat ons geen toekomsvisie het nie.
Trap rem – Ons is teen alles maar vir niks
Ons weet slegs waarteen ons is maar ons weet nie altyd waarvoor ons is nie. Miskien moet ek ʼn vraag vra om te verduidelik wat ek hiermee bedoel. Hoe sal jy vir iemand verduidelik wat die verskil tussen ʼn “konserwatiewe” kerk en liberale kerke is?
Gaan jy dalk sê:
Ø Ons is anders omdat ons teen Skrifkritiek is.
Ø Ons is anders omdat ons teen die Gay beweging is.
Ø Ons is anders omdat ons teen evolusie is.
Ø Ons is anders omdat ons teen aborsie is.
Dis hoe ek op ʼn stadium sou geantwoord het. En verstaan my mooi, ons moet teen al hierdie goed wees. Dit is boos en vieslik en veragtelik.
Maar weet ons ooit waarvóór ons staan?
Mense wat net altyd teen alles is vat niemand met hulle saam nie hulle inspireer niks nie, in teendeel hulle is soos ʼn passasier wat die handrem optrek terwyl die bestuurder probeer om weg te trek. Moet ons nie veel eerder kan se waarvóór ons is nie?
Dit is veel beter om te kan sê waarvóór ons is as om te sê waarteen ons is. By voorbeeld, in plaas daarvan dat ons bloot sê dat ons teen homoseksualisme is behoort ons te sê dat ons vir ʼn gesin volgens die Bybelse riglyne is. As ʼn mens jou identiteit wil beskrywe dan is dit mos belangriker dat jy moet kan sê waarin jy glo eerder as dat jy kan sê waarin jy nie glo nie.
Die vraag is egter weet jy ooit waarvoor jy is?
Om weer die voorbeeld van ʼn gesin te gebruik, weet ons nog wat die Bybel oor gesin leer? Kan jy verduidelik wat jy hieroor glo? Die meeste van ons, die sogenaamde konserwatiewes, is so deur die wêreldse media beïnvloed dat ons die feministiese propaganda hoek lyn en sinker gesluk het. En moenie dink ek praat net van die meisies nie, die mans is net soveel indien nie meer nie hierdeur beïnvloed.
As ʼn mens net op die standpunte fokus wat verkeerd is en leer wat jy nie moet glo nie sonder dat jy ooit weet wat die Bybel wel leer dan gaan jy êrens vir een van hierdie valse standpunte val. Want hoe gaan jy weet wat verkeerd is as jy nie iets het om dit aan te meet nie. Hoe gaan jy weet wat vals en sleg is as ons nie regtig weet wat waar en goed is nie?
In die banke het hulle die probleem dat mense allerhande soorte vervalste geld gebruik. Daarom word die tellers by banke spesiaal opgelei om valse geld uit te ken. Die interessante is dat hierdie mense nie nodig het om al die verskillende soorte valse note te leer nie – nee hulle word geleer om die ware banknote baie goed te ken. Want as hulle die ware banknoot goed ken dan is dit baie maklikker om raak te sien wanneer daar ʼn vervalste noot is.
Ek is bevrees dat ons dalk so besig is om te fokus op alles waarmee ons nie saamstem nie dat ons nie meer mooi kan se waarin ons wel glo nie. Ons weet net waarteen ons is maar ons weet nie meer waarvoor ons is nie. En die gevaar hiervan is, êrens gaan daar ʼn vervalste banknoot by ons verby glip. As ons nie weet wat die Bybel leer nie gaan ons êrens vir ʼn onbybelse idee val, om die waarheid te sê ons het alreeds vir ʼn hele paar van hulle geval.
Die Britse Joernalis en pro Boer GK Chesterton het tereg opgemerk: “The true soldier fights not because he hates what is in front of him, but because he loves what is behind him.” Die vraag is, weet ons nog waarvoor ons veg? Die hartseer werklikheid is dat baie “konserwatiewes” die meeste van hulle energie spandeer om téén goed te veg. Ons probeer as te ware om die vyand se vooruitgang te rem.
Hierdie geremtrappery van ons veroorsaak dat ons besig is om sleg ter verloor. Ons gebruik al ons energie om die heidene se agendas te probeer rem. Ons is so besig om te veg teen dit wat die heidene besig is om op te bou dat ons nooit iets van ons eie bou nie. Dink vir ʼn oomblik wat die gevolg hiervan is:
Dit is moontlik dat ons dit somtyds regkry om dit wat die liberales “bou” ʼn knou toe te dien en om iets wat hulle daar gestel het te kniehalter maar vir elke twee tree wat hulle terug tree gee die heidene weer drie tree vorentoe.
By voorbeeld die heidene is regtig nou al lankal besig om iets soos die Gay agenda te drywe. Nie baie lank terug nie was dit heeltemal ʼn taboe in die samelewing. Vandag is dit algemeen. Intussen was ons nog die heeltyd besig om teen die Gay agenda te veg. Ons skrywe boeke daarteen ons praat daarteen ens. Al die energie wat ons het gebruik ons om dit wat hulle bou te beveg en af te breek.
En as jy my nie glo nie – gaan kyk maar waaroor skryf en praat die bekende konserwatiewes van ons dag. Intussen is die heidene besig om die meeste van hulle energie te gebruik om hulle eie agenda te dryf. Hulle is nie die heeltyd besig om boeke te skrywe teen ʼn Bybelse idee van die gesin nie, nee hulle skryf boeke en doen praatjies oor waarom feminisme en “gay” goed is.
Gedurigdeur is hulle besig om dit maklikker te maak om feministies of gay te wees. Hulle skep geleenthede vir gays in skole en sorg vir maklike poste in die staat vir vrouens ens. Hulle bou aborsie klinieke en maak dit maklik om ʼn aborsie te kry.
Hulle is besig om te bou aan dit waarin hulle glo!
Oor vyftig jaar gaan ons dalk moet terugkyk en sê dat die “konserwatiewes” niks gebou het nie terwyl die “liberales” heeltyd besig was om te bou.
Jy dink dalk nou by jouself, ek hoor wat jy se Peet – maar dis nie waar nie.
Ons het alreeds baie wat gebou is.
Ons het alreeds ʼn eie kultuur en beginsels. Om nie van ons eie instellings te praat nie. Dink maar net aan die APK kerk, die AP Akademie, Akademia, Soltech Aros die cvo skole ens.
Die probleem is egter dat dit niks help dat ons al hierdie wonderlike instellings bou as ons nie bereid is om die mees basiese bakstene te maak nie. Dit help veel dat ons Universiteit stig en skole bou as daar nie kinders gaan wees om hulle te vul nie. Ons sal anders oor kinders moet begin dink. Die wêreld vandag wil aan ons vertel dat kinders net ʼn uitgawe is. Die Bybel leer egter dat kinders ʼn seën is.
Wat help dit ons het kerkgeboue maar daar is nie meer mense om hierdie geboue te vul nie omdat ons nie bereid was om evangelisasie te doen nie?
Omdat ons nie weet waarvoor ons is nie en niks van ons eie bou nie word ons die skaduwee van liberalisme.
Wanneer jy nie ʼn stewige fondasie het nie en jy niks van jou eie gebou het nie en verder ook nie weet waarvoor jy is nie dan word ʼn mens baie maklik op sleeptou geneem. En dit is presies wat vir die afgelope 150 jaar met die “konserwatiewes” gebeur het. Konserwatisme is so ʼn bietjie soos iemand wat ʼn vragmotor wat teen ʼn groot afdraande weghardloop se rem trap. Jy kan rem soveel as wat jy wil, maar al wat jy gaan regkry is om die rem uit te brand. Die vragmotor gaan nog steeds weghardloop. Dink ʼn bietjie so daaraan 150 jaar gelede was dit groot stryd teen die feminisme gewees. Toe was die konserwatiewe ouens die manne wat teen feminisme geveg het. Die sogenaamde konserwatiewes het egter op die ou end die leun van feminisme hoek lyn en sinker gesluk. Vandag word die konserwatiewe “ideaal” deur vrouens gedrywe wat beroepspolitikuste is!!!
ʼn Ruk gelede was die groot stryd in Amerika om die Gay agenda uit die skole ens. te weer. Vandag is dit die Gays wat teen die transgender beweging veg en poog om mans wat as vrouens identifiseer uit vroue sport te hou wat konserwatief genoem word. Dink maar net aan die Amerikaner Dave Rubin.
Sien julle wat ek bedoel?
Ek is nie die eerste een om hierdie swakheid van konserwatisme raak te sien nie. In 1871 skrywe Robert Lewis Dabney, ʼn bekende teoloog, al die volgende in ʼn opstel:
“It may be inferred again that the present movement for women’s rights will certainly prevail from the history of its only opponent, Northern conservatism. This is a party which never conserves anything. Its history has been that it demurs to each aggression of the progressive party, and aims to save its credit by a respectable amount of growling, but always acquiesces at last in the innovation. What was the resisted novelty of yesterday is to-day one of the accepted principles of conservatism; it is now conservative only in affecting to resist the next innovation, which will to-morrow be forced upon its timidity, and will be succeeded by some third revolution, to be denounced and then adopted in its turn. American conservatism is merely the shadow that follows Radicalism as it moves forward towards perdition. It remains behind it, but never retards it, and always advances near its leader.”
Wat Dabney dus vir ons wil se is dat “konserwatisme” baie maklik die skaduwee van liberalisme en radikalisme word wanneer dit nie deeglik in die christelike geloof gegrond is nie.
Dit bring ons dan by die tweede groot fout van konserwatisme.
Dit kyk deur die verkeerde bril na die wêreld - Konserwatisme en Liberalisme is die verkeerde kategorieë om binne te dink.
Konserwatisme en liberalisme is die verkeerde kategorieë is om onself meet te klassifiseer. Konserwatisme kan baie maklik sonder Christus kan wees. Dink maar net aan ʼn politieke kommentators soos Ben Shapiro wat ʼn Jood is of ʼn ou soos Jordan Peterson wat in die Bybel wil glo sonder om regtig in die Bybel te glo. Hulle sê heel dikwels goed wat waar en selfs mooi is maar op die ou end is dit wat hulle se nie in die waarheid gegrond nie.
Dit gaan vir hulle bloot oor die behoud van ʼn klompie goeie beginsels. Hulle wil al die goeie beginsels van die Christendom behou maar hulle is nie bereid om Christus as koning te aanvaar nie. En daarom is hulle in ʼn sekere sin selfs gevaarlikker as die liberaliste.
Konserwatisme sonder Christus is soos iemand wat ʼn mooi huis van sy fondasie af losgemaak het, dit opgetel het, en dit toe op sand gaan neersit het. Die huis is wel mooi. Maar dit gaan nie lank kan bly bestaan nie want sy fondasie is onder hom uitgeruk.
ʼn mens kry dieselfde onder ons eie sogenaamde “konserwatiewe” leiers hier in Suid Afrika. Ons sogenaamde konserwatiewe “leiers” is almal “christene” almal bid voordat hulle ʼn optog hou. Op die ou end moet ons egter eerlik vra; Gaan dit vir hulle oor die eer van Christus of wil hulle die Here maar net soos ʼn spaarwiel gebruik? Elke keer wanneer daar moeilikheid is dan bid ons gou, en dan voel ons ʼn bietjie beter. En in effek word die Volk ons afgod.
Die mensdom kan in twee groepe verdeel word. Daar is twee groepe mense hier op aarde, maar die verdeling is nie konserwatief en liberaal nie. Daar is mense wat vir Christus is en die wat teen Christus is. Daar is diegene wat onderdane van Christus is en diegene wat in rebellie teen Hom is. Diegene wat Jesus Christus as hulle koning erken is ons vriende, ons broers in die geloof. En diegene wat in rebellie teen Christus is, is ons vyande.
Dit is wel so dat ons op hierdie stadium nou in 2024 dit regtig die konserwatiewe ouens is by wie ons as christene die meeste aanklank vind. Ons stry teen die selfde goed. Ons stry teen die gay beweging ons is teen aborsie ons is teen regstellende aksie ens.
Wat ons egter moet besef is dat dit al dikwels in die verlede gebeur het dat die “konserwatiewes die vyande van die christendom was. En die rede daarvoor is dat konserwatiewes dikwels nie ver genoeg terug gaan nie. Hulle gaan soek hulle fondasies ʼn honderd of twee honderd jaar in die verlede en hulle bou op menslike tradisie in plaas daarvan dat hulle twee duisend jaar terug gaan tot by die Nuwe Testament en die Woord van God hulle fondasie maak.
Die Reformasie is ʼn baie goeie voorbeeld hiervan. Manne soos Luther en Calvyn sou in vandag se terme as “liberaal” geëtiketteer geword het deur die “konserwatiewe” Rooms katolieke wat aan die tradisie vasgehou het.
Nog ʼn voorbeeld is die stryd wat ons Here Jesus met die Fariseërs gehad het. Die Fariseërs was die “konserwatiewe” ouens van hulle dag. Hulle was die behoudendes en tog was hulle vyande van Christus.
Geen toekomsvisie nie.
Dit bring ons dan by die laaste groot fout wat konserwatiewes maak. Ons vra dikwels hoekom daar so min jongmense in die kerk is. Een van die groot redes is dat ons geen toekomsvisie het nie. Jongmense soek hoop, hulle wil iets bou. Hulle wil in die toekoms kan glo – want vir hulle lê die toekoms nog voor.
Daarom trek die liberales meer jongmense as ons want hulle het ʼn toekomsvisie. Dit maak nie saak hoe belaglik hulle toekomsvisie is nie want enige toekomsvisie is beter as geen toekomsvisie.
Die APA, die universiteit waar ek studeer, se leuse is – “Ou spore nuwe wee”
Paul Kruger het iets gesê wat op die selfde trant was – “Neem uit die verlede alles wat goed en mooi is en bou daarop dit toekoms.”
En dit is baie waar, hierdie leuses is regtig ʼn uitstekende manier om die lewe te benader. Ons moet gaan kyk na dit wat in die geskiedenis gebeur het en ons moet luister na dit wat ons voorvaders gesê het. Want as ons dit nie doen nie dan is ons soos ʼn skip sonder ʼn anker en gaan elke ou stormpie ons meesleur. As ons nie in die verlede gewortel is nie, dan sal ons vir elke tweede leun val.
Dit beteken egter nie dat ons net met dit wat goed en mooi was in die verlede besig moet wees nie. Ons moet ʼn toekoms daarmee bou. Dit help veel ons is besig om ou spore te trap maar ons bewandel nie nuwe wee nie.
Konserwatisme is dikwels so besig met die verlede dat hy sy rug op die toekoms draai. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is die Afrikaner koerant van die HNP. Toe ek nog op skool was het ek dit op ʼn stadium gelees. Wat egter jammer is was dat die meerderheid van die artikels geskrywe was deur ou omies wat gestry het oor wie se skuld dit nou eintlik was dat die land in ‘94 aan die ANC oorhandig was. Dit is nie ʼn voorbeeld daarvan om alles wat goed en mooi uit die verlede te haal en dan daarop ʼn toekoms te probeer bou nie. Nee dit is om jouself in die verlede te gaan verdrink omdat jy te bang is om die toekoms in die oë te kyk.
Nou ek se hierdie dinge nie om die HNP of die Afrikaner koerant by te kom nie, maar omdat ons wat “konserwatiewe” jongmense is dikwels presies die selfde doen.
Ons idealiseer so maklik die verlede, en veral ons wat na 94 gebore is wens so maklik dat ons in ʼn ander tyd gebore was. Dat ons ook al hierdie wonderlike dinge kon beleef waarvan ons Pa’s en Oupas vertel. Ons verlang na die goeie ou dae, die tyd toe dit nog goed gegaan het. Ons verlang na die tyd van die vorige bedeling, na die Apartheid regering.
Ons is so besig om terug te kyk na dit wat was, dat ons vergeet om die toekoms aan te pak.
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek dink nie dat Apartheid sleg was of dat dit sonde was nie. Maar dit is verby. Die ou bedeling is verby. Daar is niks van oor nie. Ons gaan dit nooit weer terugkry nie.
Hierdie feit dat ons nie in die “ou Suid Afrika” lewe nie moet ons egter nie moedeloos maak nie. Ons moet ook nie wens dat ons eerder in ʼn ander tydperk gebore is nie. God het immers bepaal dat ek en jy lewe in die tyd waarin ons lewe. En God se wil is altyd die beste, daar is ʼn rede waarom Hy bepaal het dat jy na ‘94 gebore is.
Daarom moet jy ophou om te dagdroom oor die verlede en vra, hoe gaan ons die toekoms tot eer van die Here aanpak?
Waarvoor staan ons?
Waarin glo ons?
En wat gaan ons bou?
Kom ons haal ons hoede af vir die verlede, en rol ons moue vir die toekoms op.
Ek wil graag afsluit met die woorde van Jer. 29:4-7
So sê die Here van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het:
“Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die Here; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.”